[vc_row][vc_column][vc_column_text]
Die Covid-19-pandemie het ons baie lesse geleer, en een van die belangrikste finansiële lesse is waarskynlik hoe waardevol toegang tot ‘n noodfonds is.
Periodieke sluiting van ondernemings onder die verskillende inperkingsvlakke en ‘n trae ekonomie het ‘n totale verlies van inkomste vir baie huishoudings tot gevolg gehad, terwyl ander vir lang tydperke ‘n heelwat laer inkomste gehad het. Die pandemie het ons so gedwing om wat ons met ons geld doen, te prioritiseer op grond van wat vir ons die belangrikste is.
Ons lys twee belangrike benaderings ten opsigte van besteding en spaar ten einde tydens die inperking in beheer van ons finansies te bly:
1. Verminder skuld: leen minder, spaar vir beplande toekomstige uitgawes en betaal meer indien moontlik
Alhoewel party bedrywe toegelaat is om in sekere inperkingscenario’s steeds sake te doen, moes talle nie-noodsaaklike werkers in ons land vir lang tydperke by die huis bly. Vir diegene wat by die huis moet bly, kan geld wat andersins aan brandstof en middagete by die werk bestee sou word, gebruik word om vir beplande toekomstige uitgawes te spaar.
Ongeag watter inperkingsvlak van toepassing is, kan mense wat gelukkig genoeg is om van die huis af te werk en steeds ‘n inkomste te verdien dalk die geleentheid gebruik om te kyk hoe hulle maandeliks ‘n bietjie meer op hul skuld kan afbetaal. Dit is dalk ook ‘n goeie idee om nou geld vir ‘n noodfonds opsy te probeer sit sodat jy nie skuld hoef aan te gaan indien jy voor ‘n onverwagte uitdaging staan nie.
2. Verander jou bestedingsgewoontes en gee minder uit as wat jy verdien
Inperking is dalk die tyd om ‘n lys van noodsaaklikhede te maak en by ‘n begroting te begin bly. Stel finansiële doelwitte wat jou kan help om te bepaal waar jy uitgawes kan besnoei. Liewer dit as om jouself in ‘n posisie te bevind waar onnodige bedrae van jou bankrekening afgetrek word op ‘n tydstip wanneer jy sukkel om skoolgeld te betaal. ‘n Oudit van jou bankstate met insette van ‘n finansiële beplanner kan help om onnodige besteding of oorbesteding te identifiseer.
Dis nie altyd maklik om jou finansies reg te ruk vir finansiële sukses op lang termyn nie. ‘n Finansiële beplanner kan jou help om dit te doen, maar dit sal ook toewyding aan en ‘n fokus op die finansiële doelwitte wat jy vir jouself gestel het, verg. Gebruik dus die geleentheid wat jy moontlik tydens die inperking het om weer deeglik na jou finansies te kyk en te bepaal waar jy uitgawes kan besnoei. ‘n Uitsig van die huis af kan jou dalk die finansiële perspektief gee wat jy nodig het om belangrike veranderinge te maak!
[/vc_column_text][/vc_column][/vc_row]